|
Sondag, 13 Junie 2004 |
|
Ek en Pieter en ons drie seuns is trotse Suid-Afrikaanse Kiwi’s wat ons in 2001 in The Land of the Long White Cloud kom vestig het. Ons woon in Orewa,so 35 kilometer noord van Auckland. Orewa is loshande die mooiste plek op hierdie eiland, maak nie saak van watter kant af jy die stranddorpie binnekom nie, oral groet ‘n asemrowende prentjie jou.
Met die totstandkoming van hierdie webwerf, het ‘n jarelange droom uiteindelik waar geword. Ons groot liefdes is baie nou verweef in Afrikakiwi - myne vir skryf en Pieter s’n vir inligting tegnologie.
Voordat julle saam met ons begin kuier, wil ek eers vir ieder en elk waarsku dat ons werf nie bedoel is vir sensitiewe lesers of mense wat hulle mes in het vir immigrante nie. Ek het ook ‘n broertjie dood aan immigrante, maar aan die soort wat met al hul bagasie trek en dan weer hul geboorteland in die kleine hier in die vreemde wil kom bou. Ek glo as jy in Rome is, maak jy soos die Romeine maak. Ons woon nou in Nieu-Seeland - ‘n baie suksesvolle eerstewêreldland en moet ons maak soos die Kiwi’s maak. Die menings wat ek in hierdie webwerf uitspreek, is MY EIE.
Ons hoop julle gaan heerlik hier op ons werf baljaar- hier is ‘n ietsie van alles. Antjie se Pen bevat al my briewe van die afgelope vyf en 'n half jaar en jy is welkom om deel van die rubriek te word. Ons foto-album sal jou ‘n kykie in die lewe van ons gesin, familie, vriende en die prag van Nieu-Seeland gee. Voornemende immigrante kan gaan aanklop by ons Immigrasie-blad en sommer ook loer na Kiwi-maniere om kennis te maak met die Kiwi’s se doen en late. En moenie Kiwiana misloop nie. Teken gerus ons besoekersboek as julle klaar rondgeloer het. Ons verwelkom alle kommentaar.
Val weg en geniet dit... |
|
Laaste opdatering ( Maandag, 29 Januarie 2007 )
|